Ah, die dood. Die een ding wat ons almal nog altyd verbind en verdeeld hou. As iemand sterf, dink 'n mens aan die pragtige begrafnis, die trane van verdriet, en die trosse blomme. Maar wat jy dalk nie verwag nie, is die bietjie van 'n "Afrika safari" wat kort daarna plaasvind – die oomblik wanneer vriende en familie skielik aasvoëls word.
Ek het my eie persoonlike gevoelens hieroor, maar ek sal hierdie skrywe probeer lig hou.
(Disclaimer: Nie op enige iemand spesifieks gemik nie. Behalwe as die skoen jou pas, natuurlik).
Aasvoël tipe nommer 1: Die Testament-tannies
Soos klokslag, sodra die kersie uit is, is daar dié een oom of tannie wat so stilletjies vra: “Is daar 'n testament?” Dit is asof hy of sy jare lank geoefen het om hierdie vraag so natuurlik moontlik te vra. En sodra hulle ’n bewys kry van 'n testament, kan jy maar weet – hulle het hulle sakrekenaars al reg!
Aasvoël tipe nommer 2: Die Erfgoed-etters
Dan het jy die mense wat jy nog nooit in jou lewe gesien het nie – ’n skoonouma se niggie se beste vriendin se buurman wat kom kuier vir die erfporsie. Hulle daag baie selfvertroud op, gereed om ‘n porsie van die aardse goedere te eis, terwyl jy staan en wonder: “Wie is jy?”
Hulle kom met die grootste kalmte – asof hulle die oorlede persoon jare lank geken het – en noem sommer gou hoe hulle weet dat daardie yskas eintlik “vir hulle bedoel” was.
Aasvoël tipe nommer 3: Die Kombuis-komrades
Dis eintlik waar jy die regte “aasvoëls” sien. Ná die begrafnis, wanneer almal terug by die huis kom of die driehoekiebroodjies in die kerksaal gaan geniet. As daar ’n tafel vol kos is – poef – almal duik in soos roofdiere wat 'n karkas ontdek het. En dis dan die tannies met die Tupperware wat elke laaste bietjie kos opwerp en inpak vir “later eet.” Daardie een oorskiet-hoendervlerkie staan nie 'n kans nie.
Selfs die tuisgebakte koek wat ouma Martha met liefde gebak het, is gou weg voordat die mense eers behoorlik kan sit. Daardie spinasie-tert is ’n prys wat almal wil hê, en die stryd is aan.
Aasvoël tipe nommer 4: Die “Vir My Bedoel” Brigade
Soms moet jy maar lag. Daar is altyd daardie een vriend of vriendin wat sweer daardie vintage teestel of kampyskas was “vir hulle bedoel” – en jy wonder of hulle ’n geheime boodskap ontvang het wat jy nie kon hoor nie. Skielik is die ou skildery wat jou oupa gekoop het iets “baie sentimenteel” vir hulle.
Aasvoël tipe nommer 5: Die (R)aasvoëls wat eerder moet stilbly
Niks sluit 'n goeie begrafnis af soos die gewigtige "advies" wat sekere mense ongevraagd uitdeel nie. Hulle het raad oor hoe jy die familie-erfgoed moet hanteer, wie die kar moet kry, en hoe die huis verdeel moet word. Hulle sal vra: “Is jy seker jy weet wat jy doen? Oom Piet sou wou hê dat ek daardie tuinslang kry, ek weet dit net!” Of "Klein Katryn sit mos nou huis op, so die goedjies gaan natuurlik na haar toe gaan, reg?"
Hoe hanteer ons hierdie situasie?
As jy jouself in hierdie "Afrika safari" bevind, is daar 'n paar wenke om kop bo water te hou:
Skep ’n regstreekse familie-kode – soos ‘n handdruk of kwaai, maar subtiele wenkbrou-liggie wat aandui: “Ons los hierdie saak vir later.”
Daar is één reel: die enigste persoon wat besluite kan maak is die oorledene – dus is die testament die Bybel. Maak nie saak wie jy is of wat jy dink jou moet toekom nie – of jy nou die vrou, eks, kind, of skelmpie was - die testament is wet en die boedel moet gerespekteer word, anders gaan jy, persoonlik, die gevolge moet dra. Dalk nie nou nie, maar wel later.
Lag daaroor! Die dood is ernstig, maar party van hierdie gevalle is so lagwekkend dat jy nie anders kan as om die humor daarin te sien nie.
Die storie agter die storie? Mense het almal maar 'n bietjie van 'n aasvoël binne hulle as dit by erfporsies kom. Ons probeer almal maar oorleef, en party doen dit met 'n skinkbord vol samoosas, pasteitjies en Tupperware-bakkie in die hand.
Comments